Ek slaap in die rus van die eeue gesus, ongesien, ongehoord, en dof en loom in my sonnedroom, ongewek, ongestoord. Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande skuif my breedte uit, wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur wat my swyend omsluit.
Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot bo die diep van die meer; en volswanger van lewe ’t oor waat’re geswewe die gees van die Heer. Uit die woelende nag van haar jeugdige krag brag die aarde voort Lewiátans-geslagte, geweldig van kragte— storm-ontruk aan haar skoot. Diep in my gesteente berg ek hul gebeente— die geheim van hul lewe en lot; maar gewek uit die sode herleef uit die dode, na die ewig hernuwingsgebod, die stof van d’ verlede in vorme van d’ hede, in eindeloos kome en gaan; wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud, en geen grein sal ’k verlore laat gaan.
As die son oor my vloer in die môre kom loer en die dou van my lippe kus, dan kyk ek net stom met ’n glimlag om en lê maar weer stil in my rus. Hoog bowe die kim op sy troon geklim, is hy heer van lewe en dood; na wil en luim geef hy, skraal of ruim, verderf of lewensbrood. Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer tot my naaktheid kraak en skroei, en my koorsige asem in béwende wasem al hygend my bors ontvloei. In sy skadetjie rond-om sy stam op die grond staat ’n eensame doringboom, soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon, wat roerloos die eeue verdroom. Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors: my kinders[1] versmag en beswyk, en die stowwe staan soos hul trek en gaan om my skrale dis te ontwyk.
Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim kom ’n wolkie aangesweef, maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou van marmer wat krul en leef— kolossaal monument op sy swart fondament, waar die bliksem in brul en beef. En o, met my is die windjies bly: hul spring uit die stof orent, en wals en draai in dwarrelswaai oor my vloer, van end tot end; die gras skud hul wakker om same te jakker tot hy opspring uit sy kooi, en soos mane en sterde van jaende perde sy stengels golf en gooi. Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof, kom die eerste druppels neer, tot dit ruis alom so deur die gebrom en gekraak van die donderweer. Met kloue vooruit om te gryp en buit jaag ’n haelwolk langs verby, soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande vertrap en gésel hy— en sy lyke-kleed sien ek ver en breed in die awendson gesprei.
Stil in die duister lê ’k so en luister hoe die spruite gesels en lag; maar bowe die pak van my wolkedak het die maan al lank gewag: nou breek en skeur hy ’n baan daardeur om te deel in my vreug benede; hy sprei die waas van sy romig-blou gaas— en ek lag so stil-tevrede. Plek op plek, soos die wolke trek, sweef die skaduwees onder mee, soos eilande wyd oor die waat’re verspreid op die boesem van die grote see. Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus en ek wag op die daeraad— so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi wat lag in haar bruidsgewaad.
Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug van brande wat ver-weg kwyn, en doringbome fluister in die rooi skemerduister van gevare wat kom of verdwyn. Uit slote en plas, uit die geurende gras, styg ’n danklied op ten hemel; en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor weergalm uit die sterre-gewemel, waar wêrelde gaan op hul stille baan tot die ende van ruimte en tyd. So, groots en klaar, staat Gods tempel daar, wyd—in sy majesteit.
