# Winternag EUGÈNE MARAIS · Afrikaans · Poem Rights: Public-domain text O, koud is die windjie en skraal! En blink in die dof-lig en kaal— so wyd as die Heer se genade— lê die velde in ster-lig en skade. En hoog in die rande, versprei in die brande, is die grassaad aan ’t roere soos wenkende hande. O, treurig die wysie op d’ooswind se maat, soos die lied van ’n meisie in haar liefde verlaat! In elk grashalm se vou blink ’n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou. Source: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302 Text edition: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302