# Die verkleurmannetjie C. LOUIS LEIPOLDT · Afrikaans · Poem Rights: Public-domain text ## Slim opsomming — Hierdie teks En as jy oud word, bly nog jong! ### Hoofgesprekspunte - Daar op die vyeboom sit die vabond, - En sy hele vel blink soos die skulpies - Arrie, ek hou van jou, kleurklasie! - Net op jou takkie en jou tong: Kernsinne uit hierdie teks gekies · vanlyn beskikbaar ## Leesteks Daar op die vyeboom sit die vabond, So sedig as ’n predikant; Maar glo tog nie dat hy so vroom is: Nee, regtig nie, hy is astrant! As jy hom aanraak, dan verkleur hy: Geel, rooi, grys, bruin en blou en groen; En sy hele vel blink soos die skulpies Se binnekant met perlemoen. So teemrig sit hy op sy takkie Die muggies met sy tong te vang, En met sy ronde oë maak hy Die spinnekoppe algar bang. Hy draai sy nek soos ’n toktokkie, Of soos ’n papie uit die klei, En kyk so sedig na die vliegies As hy die goed nie beet kan kry. Arrie, ek hou van jou, kleurklasie! Jy gaan jou lewe deur so mooi, Jy steur jou nie aan wat die mense So praat of skinder en flikflooi. Jy steun op niemand nie, kleurklasie, Net op jou takkie en jou tong: Verkleur maar môre net soos gister, En as jy oud word, bly nog jong! Source: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302 Text edition: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302