# Die windjie TH. WASSENAAR · Afrikaans · Poem Rights: Public-domain text ## Slim opsomming — Hierdie teks Windjie, ’k hoor so graag jou liedjies ### Hoofgesprekspunte - Jy so haastig nou al weer? - Oor die grassaad ruis jou voetjies, - Windjie, jy ’s net soos die vlinder, - Waai maar, windjie, hardloop, huppel Kernsinne uit hierdie teks gekies · vanlyn beskikbaar ## Leesteks Windjie, windjie, waarheen jakker Jy so haastig nou al weer? Al die stowwe skud jy wakker, Blare, blomme heen en weer. Oor die grassaad ruis jou voetjies, As jy huppel oor die wei; Golfies bokspring, as jy soetjies Oor die koele water gly. Soos ’n katjie speels ’n muisie In sy kloutjies rond laat vlieg, Skommel jy jou blare-huisie, Tot die takkies almal wieg. Orals vroetel jy en snuffel Eike graspol deur en deur, En terwyl jy hul kernuffel, Jomp jy nog die blompies’ geur. Windjie, jy ’s net soos die vlinder, Wat op elke blompie rus; En van d’ een by d’ ander skinder, Skoon hy almal vriendlik kus. Windjie, ’k hoor so graag jou liedjies By my raam en dak se rand, in die boomtop, tussen rietjies Ruisend langs die waterkant. O, so graag staan ek en luister In ’n hoë mielie-land, Hoe die ranke blare fluister Almal in dieselfde trant. Waai maar, windjie, hardloop, huppel Oor die koppies, veld en rand— Drink uit vleie en kom druppel Mild die reën op dorstend land. Source: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302 Text edition: https://www.gutenberg.org/ebooks/42302